Hage bring hulde aan werkers op Werkersdag, te midde van hoë werkloosheid
President Hage Geingob het ‘n Werkersdag-boodskap aan die werkers in die land gestuur. Dit is vandag wêreldwyd, Internasionale Werkersdag. Hy sê Namibië se vryheidstryd het in die stryd van werkers vir beter toestande begin. Hy sê daarom bring hy hulde aan Namibiese werkers wat ‘n deurslaggewende rol gespeel het in die vordering van sosio-ekonomiese welvaart vir die hele Namibiese volk. Hy het ook melding gemaak van die veranderde landskap wat werk betref veral met die sogenaamde Vierdie Industriële-revolusie en sê Namibiese werkers moet toegerus word met die nodige vaardighede om die nuwe wêreld te betree. Werkloosheid in Namibië word tans geag as die grootste uitdaging vir maatskaplike welvaart en vrede. Werkloosheid vanjaar sal rondom 23 persent voorkom met meer as 40 persent van die jeug wat werkloos is. Die kwessie was ook onlangs in die nuus met ‘n mislukte optog teen jeugwerkloosheid op Onafhanklikheidsdag sowel as die kwessie van toenemende misdaad.