Medvedev deur na die derde ronde in Madrid
Die derde beste speler ter wêreld, Daniil Medvedev, het Andrea Vavassori gister met 6-4, 6-3 geklop en deurgedring na die derde ronde van die Opetoernooi in Madrid. Vavassori het in die eerste ronde gesukkel om Andy Murray te klop, maar kon nie die oorhand kry teen nog ‘n voormalige wêreld nommer een nie. Die Italianer, wat 164ste gekeur is, het die tweede gekeurde Medvedev laat sweet, maar moes uiteindelik bes gee. Die Rus kom in die derde ronde te staan teen sy landgenoot Alexander Shevchenko, wat vroeër gister vir Jiri Lehecka in net 46 minute verras het met ‘n 6-1, 6-1 oorwinning.