Tweede Afrika-jagluiperd in Indië dood

Nóg ’n jagluiperd uit suider-Afrika is in Indië se Kuno Nasionale Park in die staat Madhya Pradesh dood, die tweede in minder as ’n maand. Natuurbewaringsbeamptes het gesê die oorsaak van die sesjarige mannetjie se dood is nie onmiddellik bekend nie. Dit was een van 12 groot katte wat in Februarie uit Suid-Afrika na Indië gebring is. Op 27 Maart is ‘n jagluiperdwyfie, Sasha, wat deel was van die eerste groep katte wat uit Namibië gebring is, dood aan ‘n vermoedelike nier-aandoening. Agt Namibiese jagluiperds – vyf mannetjies en drie wyfies – is verlede jaar na Indië verplaas. Die geboorte van vier jagluiperd-welpies van ‘n Namibiese wyfie is op 29 Maart verwelkom. Professor Morgan Hauptfleisch van die Biodiversiteit Navorsingsentrum aan Nust, deel sy mening met Kosmos 94.1 Nuus.