VN bekommerd oor VSA wat afluister

Die Verenigde Nasies het kommer uitgespreek oor uitgelekte Pentagon-lêers met bewyse dat Amerika die VN se sekretaris-generaal, António Guterres, se gesprekke afluister. Die geklassifiseerde dokumente fokus na bewering op gesprekke wat Guterres met top-VN-amptenare gehad het oor sy frustrasie met die Oekraïnse president, Volodymyr Zelensky, en die feit dat hy nie toegelaat word om die oorloggeteisterde Tigray-streek in Ethiopië te besoek nie. Die VN het dit duidelik gemaak dat sulke optrede kragtens die VN-handves strydig is met die verpligtinge van Amerika.