Voedselhulp kospakkies moet self gehaal word, daar’s nie motors nie
Inwoners van die Ehirovipuka-bewaringsgebied sit met hul hande in hul hare in verband met voedselhulp. Die kospakkies word deur die eerste minister se kantoor gekoördineer en duur steeds voort veral as gevolg van swak reënval in die noordweste van die land. Maar, daar is geen voertuie om die kospakkies, wat uit vier sakke 12-kilogram pap, en soppakkies bestaan, af te laai nie. Inwoners, met geen inkomste nie en wat staat maak op die kospakkies word nou genoodsaak om 200 Namibiese dollar, eenrigting te betaal om die kos op Opuwo te haal. Dan moet hulle weer betaal om terug te gaan huis toe. Daar is pogings om ‘n gemeenskaplike voertuig te huur wat ongeveer 2 000 dollar kos met meer huishoudings wat dan ‘n bydrae maak. Kosmos 94.1 Nuus het met eerste minister dr. Saara Kuugongelwa Amadhila oor die kwessie gepraat. Sy was geskok omdat sy nie daaroor ingelig is nie. Sy het onderneem om ondersoek in te stel en terug te rapporteer aan die nuuskamer.