Daures-gemeenskap ruk op teen litiummyn

Plaaslike media berig dat die gemeenskappe in die Daures-kiesafdeling meen die Chinese XingFeng-myn, wat litium in die gebied ontgin, onwettig is. Die groep het opgeruk en ‘n versoekskrif aan die minister van myne en energie, Tom Alweendo, en die Tsiseb-bewaringsgebied gerig en eis dat alle aktiwiteite onmiddellik gestaak word. Die kwessie is reeds ‘n geruime tyd in die nuus en die maatskappy word daarvan beskuldig dat hy nie die korrekte prosedures gevolg het nie en dat hy nie ‘n omgewingsimpakstudie uitgevoer het nie. Alweendo het aan plaaslike media bevestig die aantygings word ondersoek en voeg by dat hy ‘n vergadering met gemeenskapslede op 24 Maart op Uis sal hou. Hy het verlede jaar ‘n verbod op alle uitvoere van litium geplaas wat tydelik gelig was en weer op 30 November in werking getree het. XingFeng is opdrag gegee om sy mynoperasies te hersien en ‘n nuwe verslag in te dien. Die gemeenskapslede beskuldig ook die myn daarvan dat hy geen maatskaplike projekte het nie, iets wat Alweendo gereeld van melding gemaak het, en uiters belangrik is.