Wes-Kaap vat misdaad vas

Die Wes-Kaap se LUR vir polisietoesig en gemeenskapsveiligheid, Reagen Allen, sê die provinsiale regering is daartoe verbind om toe te sien dat misdadigers van die strate verwyder word. Beamptes van die stad se Wetstoepassings-bevorderingsplan het van 30 Januarie tot 19 Februarie 688 mense in verband met verskeie oortredings in hegtenis geneem. Die misdade sluit in die besit van onwettige vuurwapens en dwelms. Allen sê hierdie beamptes is die vergestalting van die provinsiale veiligheidsplan, wat onder meer ten doel het om veiliger gemeenskappe te skep en die moordsyfer teen 2029 met 50 persent te verlaag.