Ongeluksverslag: Vlieënier het nie lisensie vir sweeftuig 

Volgens die voorlopige ongeluksverslag van die direktoraat van vliegtuigongeluk-ondersoeke in die Namibiese ministerie van werke en vervoer was die vlieënier wat sowat twee weke gelede in ’n sweeftuig-ongeluk in die Rehoboth-omgewing gesterf het, nie gelisensieer om daardie tipe vliegtuig te vlieg nie. In die verslag meld die ondersoekbeampte Hafeni Mweshixwa dat die laaste aangetekende vlug van die vlieënier, die 54-jarige Joern Steinbeck, in sy logboek in September 2017 was. Steinbeck is op 29 Januarie dood toe die sweeftuig wat hy gevlieg het, glo sowat 20 sekondes ná opstyging by Bahnhof sowat 15 kilometer suidoos van Rehoboth neergestort het. Steinbeck het ’n private vlieënierslisensie gehad, maar daar is volgens die verslag  geen bewyse wat aandui dat die lisensie hernu is nadat dit in Oktober 2018 verval het nie.