Tradisionele owerhede moet ophou hof toe hardloop

Die voorsitter van die Raad van Tradisionele Leiers, Immanuel /Gaseb, het tradisionele leiers versoek om hulle daarvan te weerhou om howe te nader wanneer daar ‘n meningsverskil is. /Gaseb is verlede jaar verkies as die nuwe voorsitter van die Raad van Tradisionele Leiers, in die plek van die Ondonga Tradisionele Owerheid-leier, Immanuel Kauluma Elifas wat in Maart 2019 gesterf het. /Gaseb sê binnegevegte onder tradisionele leiers het die norm geword, wat vyandigheid onder die gemeenskappe veroorsaak. In plaas daarvan om morele waardes en kultuur onder mense te verbeter, is leiers besig om te baklei. /Gaseb sê hy is besig om alle erkende tradisionele owerhede in die land te besoek en het tien uit die 53 erkende tradisionele owerhede reeds besoek. Tradisionele owerhede in Namibië word gekenmerk deur binnegevegte.