Vroue T20: Engeland, Australië skop goed af

Australië het hulle verdediging van hulle Vroue T20 Wêreldbeker-titel afgeskop met ‘n oorwinning met 97 lopies oor Nieu-Seeland op Bolandpark in die Paarl. ‘n Vyftigtal deur Alyssa Healy en goeie tellings deur Meg Lanning en Ellyse Perry het Australië ‘n totaal van 173 vir nege besorg. Nieu-Seeland het hulle twee beste kolwers in die eerste beurt verloor en nooit weer op dreef gekom nie. Hulle is uitgeboul vir net 76. In gister se eerste wedstryd in die Paarl het Engeland die Wes-Indiese Eilande met sewe paaltjies geklop. Met ‘n teiken van 136, het Engeland korte mette gemaak met nog vyf beurte en drie balle oor.