Trump sê 6 Januarie-komitee is ‘n boendoehof

Die verkose komitee van die Huis van Verteenwoordigers het eenparig besluit dat die voormalige Amerikaanse president, Donald Trump, aangekla moet word oor die voorval op 6 Januarie 2021, toe sy ondersteuners die Kongres-gebou bestorm het. Die aanklagte sluit in aanhitsing, bystand, hulp of steun vir ‘n opstand; die belemmering van amptelike verrigtinge; sameswering om die Verenigde State te bedrieg, en sameswering tot vals verklarings. Die paneel se sewe Demokrate en twee Republikeine het hul voorlopige ondersoekverslag van 161 bladsye vrygestel. Trump het intussen ontken dat hy enige oortreding sou begaan het, en ‘n verklaring vrygestel waarin hy die paneel as ‘n boendoehof afmaak.