SA moes bek-en-klouseer inperkings soos Botswana, Namibië hanteer het

ActionSA glo die huidige 21-dag verbod op alle beweging van beeste regoor Suid-Afrika is ondeurdag, onuitvoerbaar en sal nie die gewenste uitwerking hê nie om die spoed waarteen bek-en-klouseer versprei, te beperk nie. Die verbod is tans in sy 13de dag en duur tot volgende week Dinsdag. Botswana het onlangs ‘n nuusverklaring vrygestel waarin die kritieke stappe wat hulle gedoen het, uiteengesit is in die hantering van bek-en-klouseer. Die siekte is endemies in verskeie streke in Botswana en daarom het hulle gekies om ‘n gebied-spesifieke verbod toe te pas. Namibië hanteer ook die siekte, wat endemies noord van die veterinêre kordonheining is, op die manier. ActionSA se woordvoerder, Atholl Trollip, sê Suid-Afrika moet ook beheer op die manier toepas.