Nampol: Veediefstal gaan nie wyk by Otjimbingwe

Die hoë vlak van werkloosheid in en om Otjimbingwe in die Erongo-streek is geïdentifiseer as ‘n bydraende faktor tot die toenemende gevalle van veediefstal in die gebied. Dit is volgens hoofinspekteur Jeffrey |Urib, die hoof van veediefstal-ondersoeke van die Namibiese polisie in die Erongo-streek. Hy sê verder dat veediefstal ’n toenemende probleem word wat die lewensbestaan van veeboere direk bedreig en ’n ernstige ekonomiese risiko inhou. Boere in die omliggende gebiede van Otjimbingwe is ontevrede met die feit dat die polisiestasie in die nedersetting moet sluit weens ‘n gebrek aan mannekrag. Dit het die gemeenskap tydens ‘n vergadering Saterdag oor veediefstal en verwante kwessies gesê. Nog ‘n uitdaging wat op die vergadering geopper is, was die gebrek aan polisie-voertuie om operasies betyds uit te voer.