Ontploffings in Kiëf vanoggend na lang kalmte
Kiëf is vanoggend vroeg deur verskeie ontploffings geruk, ‘n dag nadat amptenare gesê het troepe het ‘n gedeelte van Sievierodonetsk in ‘n teenoffensief teen Rusland herower. Die stellings deur Oekraïnse owerhede oor Sievierodonetsk kon nie onafhanklik geverifieer word nie, en Moskou sê op sy beurt sy eie magte maak winste daar. Sievierodonetsk se burgemeester, Oleksandr Stryuk, sê straatgevegte het Saterdag gedurende die dag voortgeduur, met beide kante wat artillerievuur uitgeruil het. Rusland het die afgelope weke sy magte op Sievierodonetsk in die ooste van die land in sy veldtog om een van twee oostelike provinsies te verower waarop hy namens Russiese separatiste aanspraak maak.