Hawe-uitdagings duur voort vir sitrus

Die Sitruskwekersvereniging in Suid-Afrika sê die sitrusbedryf sal dié seisoen na verwagting 170 miljoen kartonhouers uitvoer, maar indien bestaande probleme by die land se hawens voortduur, sal die sitrus moeilik sleutelmarkte bereik. Vertragings by hawens bedreig die langtermyn-volhoubaarheid en winsgewendheid van die sitrusbedryf. Die Durban-hawe, wat 60 persent van die land se sitrusuitvoer hanteer, word deur die onlangse vloede in KwaZulu-Natal geraak. Die vereniging sê probleme by hawens het ook ‘n reuse-impak op die kwaliteit van vrugte en kweker-volhoubaarheid.