Agri Oos-Kaap sê toestand in Kirkwood is terreur
Agri Oos-Kaap wil met die polisiebestuur vergader oor die toestand in Kirkwood. Dit volg nadat die dorp amper tot stilstand gedwing is deur voortslepende betogings deur plaaswerkers wat onder andere hoër lone eis. Die hoofbestuurder van Agri Oos-Kaap, Brent McNamara, sê wat in Kirkwood gebeur is terreurdade, en hy sê die polisie doen nie naastenby genoeg om die toestand onder beheer te bring nie. Een persoon is reeds dood in botsings tussen betogers en privaat sekerheidspersoneel wat deur boere in diens geneem is.