Covid-bystand onbenut – GRN het nie bemark nie

‘n Gebrek aan openbare bewustheid oor die regering se Covid-leningskema van 500 miljoen Namibiese dollar, wat daarop gemik is om klein- en medium-sakeondernemings te ondersteun as gevolg van die impak van die pandemie, het die doeltreffendheid van die skema belemmer. Die bevinding is vervat in die verslag van die Business Rescue Task Force wat aan President Hage Geingob oorhandig is. ‘n Skamele 20 miljoen dollar van die totale fondse is uitbetaal, sedert die geld in Augustus verlede jaar beskikbaar gestel is. Die taakmag sê daar is amper geen publisiteit gedoen om die doelwitte van die fonds aan die sakesektor te verduidelik nie. Dit is ook bekend dat besighede sku was, en is, om lenings te neem en dieselfde het gebeur met die fondse wat die Ontwikkelingsbank beskikbaar gestel het.