Le Pen word ondersoek vir bedrog

Franse aanklaers sê hulle hersien op die oomblik ‘n verslag deur die Europese Unie se teen-bedrog-agentskap wat die verregse presidensiële kandidaat Marine Le Pen en lede van haar party daarvan beskuldig dat hulle duisende euro’s se EU-fondse wanbestee het. Le Pen daag Emmanuel Macron uit in die land se presidensiële verkiesing. Volgens die EU se verslag het Le Pen 140 000 euro se openbare geld wanbestee met partylede wat altesaam 617 000 euro herlei het. Niemand word daarvan beskuldig dat hulle direk voordeel getrek het nie, maar dat hulle EU-fondse vir personeel- en geleentheidsuitgawes geëis het. Media wag nog vir kommentaar van Le Pen se kantoor af. Le Pen word sedert 2017 ondersoek as deel van ‘n ondersoek na die beweerde misbruik van fondse van die Europese Unie om parlementêre assistente te betaal.