Stygings in voedselpryse lei tot onluste, nes in Soedan, Marikana

Kenners is dit eens dat burgerlike onrus gepaard gaan met stygende voedselpryse. Daar is navorsing in Suid-Afrika uitgevoer wat toon dat die Marikana-opstand gepaard gegaan het met ‘n 25 persent styging in die prys van mieliemeel en onlangs, in Soedan, is ‘n regering omvergewerp as gevolg van die styging in die prys van brood. In ontwikkelde lande bestee huishoudings ongeveer 13 persent van hul totale inkomste op voedsel maar die syfer styg tot 50 persent en meer in ontwikkelende lande, soos Namibië. Voedsel-inflasie beweeg op die oomblik plaaslik rondom 5 persent maar sal weer styg as gevolg van die groot styging in brandstofpryse wat volgende week intree. Intussen het die oorlog in Oos-Europa opwaartse druk op basiese voedsel geplaas en dié pryse styg ook einde April. Onluste en stakings in buurlande het ook veroorsaak dat die Namibiese verbruiker vanaf 7 April 20 persent meer vir suiker sal betaal. Daar is kommer oor die Namibiese burgerlike samelewing.