Swakop laat vaar 8 maande se huur vir sommiges

Die munisipaliteit van Swakopmund het verskeie maatskappye in die toerisme en gasvryheidsbedryf groot verligting gebied en huurbetalings laat vaar. Die dorpsraad se hoof uitvoerende beampte Archie Benjamin het aan plaaslike media gesê hul is genader deur ten minste vier maatskappye wat persele by die raad huur en dat die besighede tot agt maande gesluit was. Die raad het gevolglik afstand gedoen van agt maande se huur, en op meriete dit aanbeveel. Die raad het wel beslis dat alle erfbelasting en dienste wel betaalbaar is. Die Erongo-streek was vir ‘n baie lang tyd ingeperk en talle besighede, veral in die toerisme bedryf moes hul deure sluit.