SA wil Covid-inentingsertifikate digitaliseer

Die Suid-Afrikaanse regering beoog om binnekort Covid-19-inentingsertifikate te digitaliseer om só bedrog en duplisering te voorkom. Die sertifikaat sal ook as ’n “paspoort” gebruik kan word waarsonder jy toegang tot sekere plekke geweier kan word. Dr. Joe Phaahla, gesondheidsminister, het vandag op ’n virtuele mediakonferensie daarop klem gelê dat niemand toegang tot openbare geriewe of dienste geweier sal word omdat hulle nie ingeënt is nie. Hy het aangekondig sy departement is besig om aan ’n digitale weergawe van die sertifikaat te werk.