Hoogste besettingskoers vanjaar in April aangetekenMay 24, 2025

Namibië se toerismesektor sal na verwagting 4,6 miljard Namibiese dollar vanjaar genereer, ondersteun deur ‘n groeikoers van 5,5 persent en ‘n 7,3 persent toename in besoekersaankomste. Die groei is weens verbeterde internasionale lugverbindings, doelgerigte bemarkingspogings in Asië en Europa, en die toenemende vraag na eko-toerisme en kulturele reiservarings, sê Simonis Storm. Die hoogste maandelikse besettingskoers sover vanjaar is in April aangeteken op 54,94 persent. Dit is 24,1 persent hoër as in Maart, en effe hoër as die 54,73 persent van April 2019. Die jaar-tot-datum gemiddeld is egter steeds op 41,49 persent, onder die 2019-maatstaf van 44,92 persent, wat daarop dui dat die sektor nog ruimte het om te herstel.