Kleiner BTW-skok in SA verwag
President Cyril Ramaphosa het glo die afgelope week tydens ‘n kabinetsvergadering ‘n kompromisvoorstel vir die BTW-verhoging op die tafel gesit nadat sy finansminister, Enoch Godongwana, ‘n donker prentjie geskets het van hoe sy begrotingsrede daarsonder sou lyk. Volgens regeringsbronne het Ramaphosa ‘n opsie voorgehou om BTW met 0,5 en een persentasiepunt te verhoog, pleks van die voorgestelde twee persentasiepunte waarmee Godongwana dit wou verhoog. Godongwana se voorstel om BTW van 15 persent tot 17 persent te laat styg, is verlede week deur opposisiepartye in die regering van nasionale eenheid verwerp kort voordat hy sy begrotingsrede in die parlement sou lewer. Onderhandelinge oor die begroting duur môre voort, berig Rapport. Die begroting is tot 12 Maart uitgestel.