Jandre se uitdagings verdiep

Dit is onbekend wat vandag sal gebeur in die siviele saak wat Antonia Joschko teen Jandre Dippenaar hangende gemaak het na die noodlottige ongeluk in Desember 2014. Sy dagvaar vir skadevergoeding van 500 000 Namibiese dollar sowel as amper 715 000 euro na haar familie dood is in die ongeluk. Dippenaar is intussen skuldig bevind aan moord en dien 15 jaar tronkstraf in Walvisbaai uit. Hy appelleer wel. Intussen is hy op 6 Desember gesekwestreer na ‘n aansoek deur PZN Panebeaters. Sy laste oorskry sy bates met net meer as 328 500 dollar. Sy regsman Pieter Theron het dus onttrek van die siviele saak. Die saak sloer reeds jare omdat Dippenaar nie regslui kan bekostig nie en regshulp is geweier. Regter Shafimana Ueitele het die partye opdrag gegee om vandag te verskyn om die status van die saak te bepaal.