Nandi-Ndaitwah enigste kandidaat by Swapo-kongres

Die Swapo-party se sentrale komitee het Saterdag besluit om enige kompetisie vir die posisie van partypresident te voorkom by die buitengewone kongres, wat van 28 Februarie na 7 Maart verskuif is. Die party se visepresident, Netumbo Nandi-Ndaitwah, sal die enigste kandidaat wees. Die buitengewone kongres, wat oorspronklik van 28 Februarie tot 2 Maart sou plaasvind, is na 7 tot 9 Maart verskuif weens die begrafnis van wyle stigterspresident Sam Nujoma, wat vir 1 Maart beplan is. Talle senior partylede het hul kommer uitgespreek oor die onderskrywing van Nandi-Ndaitwah in plaas van ‘n verkiesing.