Waar kom baba-Yoko vandaan? Daar’s dan nie ‘n pa nie…
Die geboorte van ‘n baba-swelhaai by ‘n akwarium in Louisiana het groot opgewondenheid veroorsaak, nadat die eier uitgebroei het sonder dat ‘n mannetjie betrokke was. Yoko is gebore in ‘n tenk waarin slegs twee wyfies woon. Partenogenese, waar ‘n embrio gevorm word sonder dat bevrugting vooraf plaasgevind het, kon egter die geboorte veroorsaak het. Dit is ook moontlik dat bevrugting lank ná paring eers plaasgevind het. Die Shreveport Akwarium sê genetiese toetse sal nou gedoen word om te bepaal presies hoe Yoko gebeur het.