Frankryk 2024 se top-bestemming

Sowat 1,4-miljard mense het in 2024 internasionaal gereis wat 99 persent is van dié in 2019 – die laaste volle jaar voor Covid-19 uitgebreek het. Dit is volgens die Verenigde Nasies Wêreld-toerisme-organisasie se 2024-oorsig van die jaar. Die Europese vasteland is met 747 miljoen toeriste die meeste besoek. Frankryk het die meeste besoekers ontvang met 100 miljoen mense wat onder meer deur die Olimpiese Spele en die heropening van die ikoniese Notre Dame-katedraal gelok is. Die organisasie sê 74 miljoen mense het na Afrika gereis wat 12 persent meer is as in 2023.