IPC vra kostebevel teen Swapo in verkiesingsaak
Die sekretaris-generaal van die IPC, Christine !Auchamus, sê in ‘n beantwoordende verklaring by die Verkiesingshof dat die opponerende respondente se verklarings ligsinnig en ergerlik is. Die party vra dus ‘n spesiale kostebevel teen Swapo soos beoog in artikel 171 van die Kieswet. Dit is die volgende stap in die saak wat die IPC teen die Verkiesingskommissie, die president, Swapo en verskeie ander respondente gebring het om die 2024 verkiesings se uitslae onwettig en ongeldig te laat verklaar. !Auchamus sê onder meer in ‘n breedvoerige antwoord alle stemme wat ná 9-uur op 27 November 2024 uitgebring is, of ten minste deur kiesers wat nog nie in die ry was teen 9-uur nie, was onwettig, ongrondwetlik en ongeldig. Omdat daar geen skeiding deur die ECN was tussen die geldige en ongeldige stemme wat uitgebring is nie, was die hele terugkeer en uitslag van die verkiesings ongrondwetlik, onwettig en ongeldig.