Switserland wil swastika, Nazi-tekens verbied

Switserland poog om die swastika, Hitler-saluut en ander Nazi-tekens te verbied weens ‘n toename in antisemitisme, het die federale regering aangekondig. Die Federale Raad het ’n onmiddellike verbod op die gebruik van Nazi-simbole in die openbaar voorgestel en die oplegging van ’n boete van sowat 200 Switserse frank, of sowat 4 000 Namibiese dollar, aan enigiemand wat die wet oortree. Die Switserse strafkode sal gewysig word om enigiemand te straf wat ‘n rassistiese, ekstremistiese, Nazi-simbool of een wat geweld voorstaan gebruik om die ideologie wat dit verteenwoordig, te propageer.