Haïti-bendebaas laat bejaardes, Voodoo-praktisyns vermoor

Ongeveer 200 mense is die naweek dood in geweld in Haïti se hoofstad Port au Prince, vele van hulle in ‘n bloedbad waarin ‘n bendebaas glo Voodoo-praktisyns geteiken het. Die moorde is beveel deur ‘n magtige bendeleier wat oortuig was dat sy seun se siekte veroorsaak is deur volgelinge van die godsdiens, volgens die burgerlike organisasie die Komitee vir Vrede en Ontwikkeling. Die komitee sê die bendebaas het besluit om alle bejaardes en Voodoo-praktisyns te straf wat volgens hom in staat sou wees om ‘n bose spel oor sy seun uit te spreek.