Prins William en Donald Trump vergader

Die prins van Wallis en die verkose Amerikaanse president Donald Trump het 40 minute lank samesprekings gehou by die woning van die Britse ambassadeur na hulle die heropening bygewoon het van die Notre-Dame-katedraal in Parys. Volgens Kensington-paleis het hulle ‘n reeks globale kwessies bespreek maar ook gepraat oor die spesiale betrekkinge tussen Brittanje en Amerika. Trump het ook warm en teer herinneringe met William gedeel oor sy ontslape ouma, koningin Elizabeth. Dit was die eerste keer dat die twee ontmoet het sedert die Amerikaner verlede maand herverkies is tot president.