16 vermis na duikramp in Egiptiese Rooisee

Egiptiese owerhede sê 16 mense word vermis en 28 is gered nadat ‘n toeristeboot, die Sea Story, in die Rooisee gesink het. Dit het Sondag die hawe naby Marsa Alam verlaat vir ‘n vyf dae lange duikreis. Die boot met 44 mense aan boord, insluitend 13 bemanningslede, het half-ses Maandagoggend ‘n noodsein gestuur. Owerhede het nie die moontlike oorsaak van die voorval aangedui nie, maar mense wat aan boord was het gesê dat ‘n brander die boot getref en dit laat omslaan het. Weervoorspellers het gewaarsku teen see-aktiwiteite Sondag en Maandag, met windsnelhede van 60 tot 70 kilometer per uur, en branders van drie tot vier meter hoog.