Vrou se geneul dryf man tot drastiese stap

‘n Chinese vragmotorbestuurder, Zhou en sy vrou was op ‘n veerboot op die Yangtze-rivier toe dit alles vir hom net te veel geword het.

Lede van die skip se bemanning het gesien hoe die man skielik uit sy kajuit hardloop met sy hande wat sy ore toemaak, en skree: “Ek kan dit nie meer uithou nie.” Hulle het aanvanklik gedink hy ly aan ‘n oorbesering.

“Terwyl ons nog hieroor gewonder het, het sy vrou agterna gehardloop en geneul en kerm,” het een bemanningslid gesê. “Die man het weer sy ore toegedruk en gesê: ‘Ek kan dit nie meer vat nie, ek het ‘n breek nodig’ voordat hy oor die kant van die boot in die bruisende rivier gespring het.

Die bemanningslede het dadelik hul lampe gekry om in die water te kyk maar kon die man nie vind nie. Later die nag het die polisie egter die man gevind wat daarin geslaag het om meer as ‘n myl oor die breë rivier te swem.

“Ek het gevoel ek sterf, maar selfs dit is beter as my vrou se gekerm,” het hy glo aan die polisie gesê.

Die egpaar is die volgende oggend by die plaaslike polisiestasie herenig waar Zhou se vrou belowe het om haar gewoonte om hom te neul, op te gee.