Manne, sal jy jou vrou dra vir bier en kontant?

ʼn Jaarlikse byeenkoms van modder, bier en kontant het dosyne gretige deelnemers na ʼn ski-oord in Maine in die VSA gelok. Meer as 30 paartjies het aan die North American Wife Carrying Championship deelgeneem. Paartjies moet tydens die wedren ʼn hindernisbaan oor 254 meter aflê deur water, modder en oor stompe, terwyl die man sy vrou soos ʼn sak aartappels dra. 

Die wedren het in Finland begin. Die geleentheid word nou jaarliks in Sonkajärvi, Finland gehou as die Wêreldkampioenskap. ʼn Noord-Amerikaanse kampioenskap het in 1999 begin.  

Meeste van die deelnemers gebruik ʼn tegniek waar die vrou soos ʼn rugsak gedra word – onderstebo, om seker te maak die hardloper se arms is vry om so beweeglik as moontlik te bly. Die kampioen stap weg met die gewig van sy vrou in bier en vyf keer haar gewig in kontant. Om te bepaal watter bedrag die wenner moet ontvang, word die vrou aan die een kant van ʼn tipe wipplankskaal geplaas en die organiseerders balanseer die wipplank met kaste bier.