Protes teen moontlike borg in Sheehama-moordsaak

Die gemeenskap van Walvisbaai en familielede doen ‘n beroep op die Walvisbaai-landdroshof om borgtog te weier aan die sewe verdagtes wat in hegtenis geneem is vir die moord op die 24-jarige Nust-student Matheus Sheehama in die hawedorp. ’n Vreedsame betoging vind voor die hof plaas, waar die verdagtes vanoggend sal verskyn. Daar word beweer dat Sheehama tydens ‘n braai aangeval en vermoor is, en sy lyk is daarna dae later in die see gestort. Onder die sewe verdagtes is Sheehama se meisie, Jessica !Gaes, en haar broer, Jimmy !Gaeb.