Will Smith help Saoedies met hulle rolprentbedryf

Die Oscar-wenner Will Smith is die eregas by die Saudi Film Confex, wat van vandag tot Saterdag in Saoedi-Arabië se hoofstad, Riaad, gehou word. Plaaslike en internasionale kenners woon die geleentheid by om te beraadslaag oor hoe om die Saoediese filmbedryf te bevorder en te versterk. Organiseerders sê Smith sal sy skeppende visie en nadenke oor sy loopbaan deel en ʼn nuwe toekoms in die filmbedryf inspireer. Smith se fliek Bad Boys: Ride or Die met Martin Lawrence in die hoofrol het onlangs die film geword wat die meeste geld ooit in Saoedi-Arabië gemaak het.