Verhoor van Coenie Botha, sy vrou se dringende aansoek uitgestel

Die hoof van CBI Exchange, Coenie Botha, en sy vrou Charlotte Murove, het ‘n dringende aansoek in die hoërhof gebring om hul rekenaars, hardeskywe, bankkaarte en persoonlike eiendom terug te kry. Botha sê in hofstukke sommige van die hardeskywe bevat miljoene in kriptogeldeenhede, en is deur die polisie gekonfiskeer toe hulle op 11 Maart by Buitepos gearresteer is. Hy sê die doel van die aansoek is hoofsaaklik om ‘n reël nisi te soek tesame met ‘n tussentydse interdik in die vorm van ‘n onmiddellike kollaterale uitdaging. Dit gaan oor die deursoeking van hul voertuig en die konfiskasie van hul eiendom, wat volgens Botha arbitrêr was. Regter Thomas Masuku het die saak uitgestel tot 10 Oktober vir ‘n saakbestuurskonferensie-verhoor. Die partye moet hul sakebestuursverslag en ‘n konsep-saakbestuurbevel teen 4 Oktober indien.