Borg geweier aan man met 188 wildsvelle

’n Man wat met 188 wildsvelle betrap is en toe versuim het om homself aan die polisie oor te gee, is borgtog geweier in die Katutura landdroshof. Volgens plaaslike media is die 50-jarige Gerhardus Petrus van Zyl in Windhoek in hegtenis geneem en van onwettige jag van jagbare wild aangekla. ’n Strafsaak is op Gobabis teen hom geopen na hy glo 139 gemsbokvelle asook 23 koedoe-, 17 eland- en nege hartebeesvelle in sy besit gehad het. Hy wou dit na bewering aan ’n bekende leerlooiery en plaaslike leervervaardiger verkoop. ‘n Lasbrief vir sy arrestasie is uitgereik nadat hy nie homself oorgegee het nie. Die saak is uitgestel tot 22 Oktober.