Namaf pers ons af – NPPF
Die Namibië Private Praktisynsforum sê die Vereniging van Namibiese Mediese Fondse, Namaf, pers privaat praktisyns af en voeg by die registrateur van mediese fondse dit moontlik maak. Namaf het te kenne gegee dat alle privaat praktisyns die ICD-10-koderingstelsel, wat deur sommige regerings gebruik word om data oor siektes en mediese toestande te kodeer, moet gebruik anders sal mediese fonds-eise nie uitbetaal word nie. Die forum meen die tyd en koste hiervan is beperkend en sê ook dat die registrateur van mediese fondse in Namibië mag nie reëls goedkeur wat ’n beperking op betalings aan lede van mediese fondse plaas nie. Die forum se hoof, dr. Jurgen Hoffmann beklemtoon dat Namaf sedert sy ontstaan voortgaan om sy statutêre mandaat te ignoreer om mediese fondse te reguleer. Die vereniging het ook steeds nie gedragsreëls opgestel waarvolgens mediese fondse gereguleer moet word nie. Volgens hom dwing Namaf se onwettige optrede diensverskaffers deur afpersing om koste aan te gaan en dienste gratis te verskaf.