SA inflasie in Julie laagste sedert 2021
Jaarlikse verbruikers-inflasie het in Julie gedaal tot die laagste vlak sedert Julie 2021. Dit het verlede maand verstadig tot 4,6-persent vanaf 5,1-persent in Junie nadat dit tien maande lank tussen 5- tot 6-persent was. Laer jaarlikse koerse is aangeteken vir verskeie produkgroepe, veral voedsel en nie-alkoholiese drankies, vervoer, en behuising en nutsdienste. Die jaarlikse koers vir voedsel en nie-alkoholiese drankies is tans die laagste sedert September 2020. Groot jaarlikse prysstyings is aangeteken vir kitskoffie, sjokoladedrankies, gemaalde koffie, koffiebone en rooibostee.