Namibië ‘sal nie dagga vir medisinale gebruik verbou’
Die gesondheidministerie het die wettiging van die kommersiële verbouing van dagga vir medisinale gebruik in Namibië uitgesluit. Gesondheidminister dr. Kalumbi Shangula sê die land sien nie die behoefte om cannabis vir pynbestuur te wettig nie, aangesien die huidige voorraad medikasie wat binnespiers of binneaars gelewer word, doeltreffend is. Die kabinet het in 2022 die ministerie opdrag gegee om te ondersoek of daar ‘n vraag na dagga vir medisinale gebruik is, asook die gesondheidsrisiko’s verbonde aan die gebruik daarvan. Dit kom ná voorstelle vir die kommersiële verbouing van dagga vir medisinale gebruik. Oor die afgelope vyf jaar het 10 Afrika-lande die produksie van dagga vir mediese en wetenskaplike doeleindes gewettig. Hulle is Suid-Afrika, Lesotho, Zimbabwe, Uganda, Malawi, Zambië, Ghana, Eswatini, Rwanda en Marokko.