Kamerbessetings styg skerp, selfs voor besige seisoen
Die jongste toerismestatistieke is deur die Gasvryheidsvereniging van Namibië vrygestel en toon ‘n positiewe trajek. In April het die nasionale besettingsyfer 58,2 persent bereik, ‘n aansienlike toename vanaf 49,2 persent in Maart en 51,8 persent in April verlede jaar. Dit is nie net die hoogste kamerbesettingskoers tot dusver vanjaar nie, maar oortref ook die pre-pandemiese maatstaf van 54,7 persent in April 2019. Kosmos 94.1 Nuus het gepraat met die uitvoerende hoof van die Gasvryheidsvereniging, Gitta Paetzold, wat sê die hoë besettingsyfer word verwelkom, aangesien die besige toeristeseisoen normaalweg eers in Julie begin.
Paetzold het haar kommer oor die nuwe visum-regime uitgespreek en sê sy hoop nie dit sal die werk van rolspelers in die bedryf om toeristebesetting te verhoog, negatief beïnvloed nie.