Sudan-konflik fokus nou op Al-Fashir

Inwoners van die Sudanese stad Al-Fashir vlug van missiel-aanvalle en skuil sonder kos en water te midde van toenemende gevegte, sê hulpwerkers. Die stad is die Sudanese weermag se laaste vesting in westelike Darfoer. Die inname daarvan sal die paramilitêre Rapid Support Forces, RSF, ‘n groot hupstoot gee. Inwoners en hulpverleners vrees dat die botsings kan lei tot ‘n nuwe rondte bloedvergieting ná etnies-gedrewe geweld wat verlede jaar op die RSF en sy bondgenote geblameer is. Amerika het sanksies op twee top RSF-bevelvoerders, insluitend die mag se hoof van operasies, ingestel vir die aanvalle op Al-Fashir.