Huldeblyke stroom in vir Geingob

President Hage Geingob se afsterwe het die nuus regoor die wêreld gehaal en huldeblyke stroom in, veral op sosiale media. Geingob, 82, is vroeg vanoggend in die hoofstad oorlede kort na hy van die VSA teruggekeer het waar hy behandeling vir kanker ontvang het. Plaaslik is die reaksie onpartydig en Geingob word beskryf as ‘n goeie leier met uiters sterk demokratiese beginsels. Onder die media sal hy onthou word vir die toeganklikheid van Staatshuis en sy gereelde perkonferensies, die eerste Namibiese president wat dit ingestel het. Amptelike reaksie van politieke partye en wêreldleiers is nog nie ontvang nie. Die kabinet kom vanoggend byeen om die pad vorentoe te baan met adjunkpresident Nangolo Mbumba wat outomaties waarneem tot ‘n besluit gemaak word oor of hy, die eerste minister of adjunk-eerste minster tot November die amp sal beklee.