Vermeende bedrieër in Windhoek aangekeer

‘n 21-jarige man wat na bewering bedrog van 200 000 Namibiese dollar gepleeg het, het in die Windhoekse landdroshof verskyn en is borgtog geweier. Tino-Tenda Satumba het na bewering ‘n besigheidsman om die bos gelei deur hom as ‘n inbelsentrum-agent voor te doen, en so die man se rekeningbesonderhede bekom. Hy het na bewering die geld van ‘n Bank Windhoek-rekening na twee ander rekeninge oorgeplaas, en later geld by verskeie kitsbanke in Windhoek onttrek. Ten tyde van sy arrestasie deur die Windhoekse stadspolisie het hy 8 700 dollar kontant by hom gehad. Ses soortgelyke sake is teen hom aangeteken, vyf in Windhoek en een in Otjiwarongo. Sy vermoedelike medepligtige is nog op vrye voet.