Opuwo-bankroof: Ses verskyn vandag op Rundu

Ses verdagtes in die bedrog- en diefstalsaak by die Bank Windhoek-tak in Opuwo, sal vandag in die Rundu-landdroshof verskyn. Die Namibiese polisiemag se waarnemende streekbevelvoerder in die Kavango-Oos-streek, Eino Nambahu, sê die mans is Woensdag in hegtenis geneem in ‘n intelligensie-geleide operasie met die bystand van Bank Windhoek se forensiese departement. Daar word beweer dat die meesterbrein in die saak, Nico Rebebe, die mans werk aangebied het op ‘n plaas, maar hulle moes rekeninge by Bank Windhoek oopmaak sodat hy hulle kon betaal. Hulle het toe glo bedrae ontvang wat wissel van 200 000 Namibiese dollar tot 500 000 dollar.