Waar kom die woord skrikkeljaar vandaan?
Die skrikkel-deel kom uit die ou Nederlandse werkwoord schrikkelen wat “oorslaan, spring” beteken.
Dus: As 22 Mei in ’n “normale” jaar op Maandag val, sal dit die volgende jaar op ’n Dinsdag val, en die volgende jaar op ’n Woensdag ens. Maar die vierde jaar is ’n skrikkeljaar, en dan sorg 29 Februarie daarvoor dat 22 Mei nie op die Vrydag nie, maar op die Saterdag val: Daar word dus oor Vrydag gespring, of anders gestel: Vrydag word oorgeslaan.
Dieselfde rede het die Engelse benoeming leap year tot gevolg. In Duits het ons Schaltjahr, omdat schelten beteken “om te wissel”.
Skrikkeljaar was ’n plesierige dag, veral vir vroue. Op dié dag mag vrouens mans gevra het om met hulle te trou, wat andersins vroeër natuurlik ondenkbaar was. In Ierland kon die man weier, maar dan het dit hom ’n rok van sy gekos.
In Skotland was dit ’n dag vir mans om hulle rokkies oor hulle koppe te trek en hulle nie uit die huis te waag nie. ’n Wet van 1228 het bepaal dat gedurende die heerskappy van koningin Margaret elke jongvrou, van hoë of lae stand, die vryheid sal hê om ’n man van wie sy hou, te vra om met haar te trou. As hy weier, sou hy beboet word met 100 pond of minder (na gelang van die stand van sy beursie), tensy hy bewys kon lewer dat hy aan ’n ander meisie verloof is, in welke geval hy skotvry daarvan sou afkom. (Die jaar 1228 was natuurlik ’n skrikkeljaar.)
Bron: Dr. Anton Prinsloo
Facebook: Argaïese Afrikaanse Uitdrukkings is “Cool”!