Amerikaners verwoes Houthi-boot vol plofstof in Rooisee

ʼn Hommeltuigboot volgepak met plofstof het in besige vaarwater in die Rooisee ontplof. Die Amerikaanse vloot sê die vaartuig het aan Houthi-rebelle behoort. Dié groep sê sy veldtog is teen Israel se militêre bedrywighede in Gaza gemik. Die aanval het plaasgevind ʼn dag nadat 12 lande, waaronder Amerika en die Verenigde Koninkryk, Houthi-rebelle gewaarsku het teen gevolge indien hulle voortgaan om handelsvaartuie te teiken. Internasionale skeepsvaart is ernstig ontwrig met vele maatskappye wat reise deur die Rooisee opgeskort het en eerder die lang roete om Afrika gebruik.