Nigerië op spoor van olifante-skieter

Nigerië se omgewingsake-minister sê hulle sal die doodmaak van bedreigde natuurlewe ondersoek nadat ’n video wat op sosiale media geplaas is, wys hoe ’n soldaat twee olifante in die noordoostelike Borno-staat skiet. Die video het wyd versprei op X, en het verontwaardiging onder Nigeriërs ontketen. Hulle veroordeel die doodmaak van die olifante, wat glo in landerye rondgeloop het, en vra strenger maatreëls om bedreigde wild te beskerm. Nigerië se olifantbevolking het die afgelope drie dekades drasties afgeneem en van ’n geraamde 1 500 tot minder as 400 gedaal, volgens natuurbewaarders.