DRK verkiesings kry waarnemersending

Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap het die voormalige adjunk-president van Zambië, Enoch Kavindele, aangestel om sy waarnemersending na Woensdag se verkiesings in die Demokratiese Republiek van die Kongo te lei. Kavindele het voorheen aan die hoof gestaan van sendings na Eswatini en Zimbabwe. Die president van Zambië, Hakainde Hichilema, het Lazarous Kapambwe as die alternatiewe hoof van die waarnemersending aangestel. Die missie, wat 18 van die 26 provinsies in die DRK sal dek, fokus op demokratiese beginsels, deelname van landsburgers en die voorkoming van politieke geweld om ‘n regverdige verkiesingsproses te verseker.